Vleesbaai en plaaswyke.
Met die grensvasstelling en afstigting van Mosselbaai-Suid is die buitewyke van Vleesbaai, Brakfontein en Rietvlei aan die nuutgestigte gemeente toegesê. Na die afstigting van die gemeente het die buitewyke die behoefte begin aanvoel van n kerksaal op Vlees-baai waar eredienste gehou kon word. Tot op hierdie stadium is eredienste net gedurende seisoentye in n huis gehou en later in die sg. Kraaltjie grasbedekte plein in die middel van die Vleesbaai strandoord van destyds. Om kostes te besnoei het die kerkraad met behulp van twee skryn-werkers self die saal opgerig. Die saal is uiteindelik vir n bedrag van R 1 460 opgerig. Teen daardie stadium was meer as die helfte van die fondse reeds byeengebring. Die saal is gou-gou voltooi en kon reeds gedurende die seisoentyd van 1960 gebruik word.
Die groei op Vleesbaai was egter so snel dat die kerkraad op 8 Augustus 1967 moes besluit om die saal te vergroot. Die uitbreidings is in 1968 gedoen en die koste het n verdere R 600 beloop.
Op 1 Augustus 1979 besluit die kerkraad dat daar vanaf 1 September 1980 begin kan word met n buitediens een maal per maand (Sondag) in die Vleesbaaisaal. Daar is ook besluit om weer te begin met stranddienste tydens die seisoen van Desember 1980. Dit was n aanduiding van die groei en geestelike ontwikkeling van lidmate in die Vleesbaaidistrik. Boggomsbaai en twee nuwe woongebiede in Vleesbaai het hierdie wyk vinnig laat groei. Op die kerkraads-vergadering van 28 Januarie 1981 is goedgekeur dat die Vleesbaaisaal teen n bedrag van R 10 000 vergroot kon word om in die behoefte aan groter bedieningsruimte te voorsien.
Meer en meer mense het permanent op Vleesbaai kom woon en die behoefte aan meer voltydse eredienste en kategese het toegeneem. In April 1991 is toestemming verleen dat die kategese vir Laerskool kinders gedurende die skoolure by Laerskool Buffelsfontein kon geskied. Die skoolhoof, wat n lidmaat was, se goeie gesindheid het hierdie tussentydse en hoogs bevredigende reëling moontlik gemaak.
In September van 1991 is ook toestemming verleen om n strandhuis op te rig wat akkommodasie kon verleen aan die stranddienspan wat jaarliks die jong-mense in die seisoentyd bedien het. Die erf vir die oprigting van die huis is gratis deur Vleesbaai Maatskappy aan die gemeente gegee (sien fotos by Eiendomme).
By dieselfde kerkraadsvergadering is ook toestemming gegee om vanaf 1992 te begin met twee oggend-dienste per maand in die Vleesbaaisaal. Gedurende 1996 is goedgekeur dat daar elke Sondag n erediens in Vleesbaaisaal sou wees en kategese vir die hoërskool-groepe.
Die Rietvleiwyke se lidmate het eredienste in die dorp bygewoon, maar maandelikse bidure van huis tot huis gehou. Hierdie gebruik bestaan na 50 jaar nog steeds. Hulle dankfeeste is in die skuur van br Jannie Meyer gehou en is vir die ouer lidmate n aangename en onvergeetlike herinnering. Intussen is die Dankfees vervang met n Rietvleibraai in die dorp se kerksaal. Oor die afgelope twintig jaar het dit n nuwe tradisie geword wat deur die dorpsmense afgewag word. Die gees wat daar heers en die kwaliteit van die ete wat voorgesit word, tipeer hierdie byeenkoms as 'n hoogtepunt op die gemeente se jaarprogram.
Vleesbaai en die plaaswyke - onmisbaar deel van Suidkerk.
![]() |
|
![]() |
|
![]() |
|
![]() |
|
![]() |




