70-Plussers Lente tee-geleentheid : 27 September 2017


'n Bietje vermaak, versnaperings en 'n drinkdingetjie, en siedaar . . . daar het jy 'n wonderlike 70-plussers kuiermiddag.

Elke tafel was deur die gasvrou in 'n vervloeë tydperk versier.

Tussen al die gesels oor en weer, en die tussenposes met die verskeidenheid vermaak aanbiedings, was daar sekerlik nie 'n vervelinge oomblik nie! Ek sal graag wil hoor van die persoon wat die dag nie geniet het nie, en dis net om seker te maak dat ons vir daardie persone die eregas sitplekke kan reserveer volgende keer.

Ds Danie het almal met 'n Geestelike boodskap verwelkom, waarna Marie die verrigtinge ingelei het…

Eerste aan die beurt was Marinda Pauw, met n grappige en gevatte vertelling van "Oerie" se skooldae. Hierna het Nick van der Watt vir ons 'n lieflike sangstuk gelewer… "One Day When We Were Young", uit die rolprent "The Great Waltz (1938)", baie nostalgies, né?

Wie ken nie vir Langenhoven nie? Hier het Anton Pauw vir ons 'n oorsig gegee oor hoogtepunte in Langenhoven se lewe. Anton vertel met oorgawe van Herrie die olifant, die insident met die parlement se donkies, die tronk storie met 'n liefdesgedig aan sy vrou.

Die sang-groepie "Melodie" het onderleiding van Amanda Steyn 'n verskeidenhed van liedjies pragtig gesing.

Die laaste item was 'n vasvra oor die vertoning van grepe uit 'n versameling Outydse flieks. Almal het deelgeneem en die wenspan moes met 'n troosprys tevrede wees omdat een tafel (geen name genoem) die eersteprys onwetend verorber het! Dit was sekerlik die grap van die middag.

Hierna het almal heerlik gekuier met koffie, tee, en verversings.

Dankie aan ons eregaste. Besondere dank aan almal wat verantwoordelik was vir die verfraaiing van die tafels en voorbereiding van verversings.