Aan die begin het ons nie veel mense geken wat saam met ons na Malawi gegaan het nie. Ons was maar vreemd vir wat voorlê en vreemd tussen 'n groep van 25 mense. Dit het egter nie baie lank gevat vir ons almal om mekaar te leer ken nie. Ons het elke dag voertuie roteer en sodoende mekaar beter leer ken. Glo my daar was baie tyd om dit te doen.
Oom George wat die voortou geneem het tydens ons tog deur Afrika het heelpad 80 km/h gery, sy Landi was baie swaar gelaai met die film toerusting en hy het die pad goed genoeg geken om te weet ons moes dit rustig vat. Somtyds het ons so gefrustreerd geraak met die spoed, ander kere het ons lekker saam gelag of sommer net musiek geluister en saam gesing. Tussendeur het ons mekaar sommer baie beter leer ken. Mekaar se sterk punte, so ook wat mekaar irriteer en nie. Elke oomblik wat ons van die 7 dae saam in die voertuie spandeer het – het God ons egter gelei. Ekself het baie vroeg al groot vriende geraak met drie van die wonderlikste meisies ooit, sonder hulle sou my uitreik nie dieselfde gewees het nie. Vandag voel hulle soos my eie meisie kinders.
Ons het regdeur Botswana gereis, waar ons die mooiste bosveld en diere ervaar het in die noorde van die land het ons op een stuk pad oor die 40 olifante getel. Ons het twee aande in Botswana oorgeslaap. Daarna is ons deur Zimbabwe en dieselfde dag in Zambië, waar ons by Livingstone vir langer as 4 ure gestaan het by die grenspos.
Daardie aand sou ons in Lusaka oorgeslaap het by 'n Backpacker. Die spesifieke dag het ek saam met oom George gery. Hy het gou besef dat tyd die beste van ons gekry het. Daar was nog 'n baie moeilike en lang stuk pad wat vir ons voorgelê het. Tussendeur het sy vrou - tannie Freda - in Mosselbaai probeer om vir ons alternatiewe blyplek te kry. Die bestuurder van die backpackers in Lusaka het met oom George gekontak en vir ons intussen blyplek gereël op 'n plaas. Sy sou ons later kontak indien dit bevestig is. Ons het net daar in die donker langs die pad gesit en wag, ons kon nie verder voordat ons bevestiging gekry het nie. Oom George het vir ons in die voertuig gesê dat ons nou moet bid. Daar waar ons in die donker langs die pad gestaan het,het ons almal so op ons eie begin bid. Ek het in my binneste begin bid en vir God gevra om sy engele opdrag te gee om namens ons te veg ons vooruit te gaan en vir ons deure oop te maak. Die vroutjie van die backpackers het kort daarna gebel en gesê dat ons kan gaan kamp op die plaas. Ons sou egter net basiese geriewe en geen warm water hê nie. Die kamp is langs 'n rivier op die plaas, ons was voorbereid om baie koud te slaap.
Nadat ons 'n verdere 70 km gery het, wat soos 'n ewigheid gevoel het in die onbekende donker, het ons die plaas bereik. By die plaas gekom moes ek uitspring en namens oom George praat met die vreemde vrou, aangesien oom George nie met die rolstoel so vinnig in en uit die voertuig kon kom nie. Sy het gevra hoeveel mense ons is en wat ons omstandighede is. Nadat ek vir haar verduidelik het, het sy gesê sy is nou terug. Sy het haar voertuig gaan haal en gesê ons sal meer as basiese geriewe hê. Op daardie stadium het ek nie geweet waarvan sy praat nie. Ons het agter haar aangery en gestop by 'n ou plaas skool wat in 'n woonhuis omskep is. Die eienaar van die huis het al 25 van ons in sy huis ingeneem. Van ons het in beddens geslaap, ander het sommer net op die vloer geslaap. Die seuns het sommer almal voor die kaggel in die sitkamer geslaap. Almal van ons was so dankbaar en totaal oorbluf. Die volgende oggend het die boer vir ons gereël vir 'n bord pap en heuning, wat soos koningskos gesmaak het. Tydens ons stiltetyd daardie oggend kon ons almal met dankbaarheid teenoor God baie oorstelp staan oor Sy goedheid vir die engele wat Hy op ons pad gestuur het om ons te help. Ek dink almal van ons het toe besef dat dit ń geseënde uitreik gaan wees, die naam Bruce Miller (die boer) sal nie een van ons egter vergeet nie. Ons het sommer weer nuwe krag vir die res van die reis gekry. Daarna het ons twee aande in Zambia gebly waarna ons verder gery het na Malawi.
Teen hierdie tyd was ons almal baie moeg gery en taamlik opgewonde om by ons eind bestemming uit te kom. Niemand van ons het verwag of was voorbereid dat ons ń dag langer op die pad sou wees nie. Met ons aankoms in Malawi was ons almal al baie opgewonde om die kinders en die sendelinge te ontmoet. Ons sou hulle egter eers die volgende dag ontmoet aangesien dit toe al laat aand was.
Daardie eerste ontmoeting met die kindertjies met hulle nuuskierige gesiggies was onbeskryflik. Vriendelik en nederig soos die mense van daardie land is - het ons gou lief geraak vir hulle. Ons almal het baie gou ń baie hegte band met die kinders en sendelinge gesmee. Elke nuwe dag is met groot belangstelling en opgewondenheid afgewag. Ons het 2 aande in ń moslem "village" geslaap waar daar ook sendelinge gebly het van Africa Trek. Ons het saam met hulle sokker gespeel teen ń plaaslike span van die village en pakslae gekry - tot groot vermaak van die inwoners. Dit was vir die kinders baie snaaks om vroue/meisies te sien sokker speel in rokke. Ek moet sê dit was nogal baie komies. Daardie Sondag is ons kinders die geleentheid gegun om kerkdiens te hou vir die klein gemeente van die village. Dit het baie geseënd verloop en ons kinders het hulle goed van hul taak gekwyt.
Arno en Anro het saam met die sendelinge na ń ander moslem "village" met fietse gery. Hulle het 32 km gery op sand paaie en deur klowe. Daar het hulle gemeenskaps diens gedoen en ń vrou se huis se dak herstel. Die moslem leier van die "village" was so ingenome met die werk wat hulle gedoen het. Hy was baie gesteld op Anro en het vir hom ń suiker riet as geskenk gegee, hy het vir Anro genooi om weer by sy village te kom kuier en gesê hy is enige tyd welkom. Dit het my as ma - en ek is seker vir Arno wat daar saam hom was - baie trots gemaak. Arno het daar vir die mense ń video gewys op sy selfoon wat handel oor God as ons Koning. Van die mense wou graag die video hê, en hy het dit vir hulle gestuur met bluetooth na ń ander selfoon, so ook die foto wat geneem is van Anro saam met die leier van die "village". Hy het kort voor lank oral die woorde "THAT'S MY KING" gehoor tussen die mense, soos hulle die video met mekaar gedeel het. Dit was ń baie geseënde rit wat hulle en die mense daar sekerlik baie sal onthou.
Malawi en sy mense het baie baie diep spore in almal van ons se harte gelaat. Ons het tydens ons besoek aan Operasie Mobilisasie se basis die beste span mense ontmoet wat elke dag vir 108 wees-kinders sorg. Hulle werk nie net met die kindertjies nie, hulle werk ook in en om die gemeenskap waar hulle Bybelstudie doen by verskeie huise. Ons was bevoorreg om saam met hulle huis besoeke te doen. Tydens die uitreik het ons in groepe gedeel waarin ons onderskeidelik plaaswerk, verf werk, poppekas, huis besoeke, prayer walking en so meer gedoen het. Van ons het boeke oorgetrek terwyl ander weer die Jesus film gaan beeldsend het in van die woongebiede, waar ons kon sien hoe mense in die bosse staan en wegkruip om ook die film te kon kyk. Hulle wou egter nie in die openbaar na die film kyk nie want dit was vir hulle te gevaarlik as Moslems om dit te kon doen. Dit alles was so beplan sodat ons almal 'n blik in die lewe van 'n sendeling kon kry. Ek het (en ek is seker daarvan die res het ook) 'n nuutgevonde respek gekry vir die mense wat elke dag hulle lewe wy aan die werk van die Here.
Self tydens ons besoek aan 'n Moslem woongebied, waar ons vir 2 aande oorgebly het,het ons nie een keer bedreig of onveilig gevoel nie. Ons was altyd bewus van die alomteenwoordigheid van die Here. Ons het nie net gewerk nie, daar was darem so tydjie vir speel ook. Met ons terugreis, het ons die geleentheid gekry om by die Malawi Meer aan te gaan waar ons bietjie kon ontspan. Ons het ook by die Victoria Watervalle geleentheid gekry om nog een van God se groot wonderwerke te aanskou. Dit is absoluut asemrowend mooi. Tydens ons reis het ons baie mense teëgekom wat gevra het vir Bybels, dit was so hartseer om nie genoeg Bybels te kan hê om vir elke persoon een te kon gee nie. Baie mens was baie nuuskierig en ons was almal gretig om te vertel waar ons gaan en wat ons daar gaan doen. Baie van die mense het gevra dat ons na hulle dorpies ook moet gaan om die Jesus film daar te gaan wys.
Niemand wat ons teëgekom het was vyandig teenoor ons of het ons weg gewys nie. Ons het inteendeel baie vriendelike diens regdeur Afrika gekry. Die hartseer van die realiteit is dat die Afrika gemeenskap baie baie armoedig is en tog deur hulle armoede is hulle baie nederig. Ek’t somtyds baie swaar gesluk aan my kos as ek geweet het dat daar kindertjies en mense na ons staar met honger oë. Ek is seker een en elke persoon wat saam met ons op hierdie uitreik gegaan het is dit eens, hulle sal beslis weer so iets aanpak. Ons kan net dankie sê vir elke persoon wat dit moontlik gemaak het vir ons om op hierdie rit te kon gaan. Dit het beslis vir my groot betekenis en het my nader aan my Skepper gelaat. Ek kyk met nuutgevonde blydskap na die natuur en elke mens wat ek ontmoet. Want elke persoon se lewe vertel 'n ander verhaal.
Weereens baie dankie aan ons Suidkerk en die gemeente-lede wat dit vir ons as gesin en groep mense dit moontlik gemaak het om te kon gaan. Ons glo ons het die gemeente se naam hoog gehou.
Laaste maar nie die minste nie, wil ek vir elkeen van ons groepie dankie sê vir hulle bydrae wat hulle gemaak het in die grootste ervaring wat ek ooit in my lewe kon hê. Hier is nie genoeg plek om alles te deel wat ek graag van elke persoon sou wou deel nie. Selfs die spontane geleenthede wat daar was om ons eie getuienis aan mekaar te lewer was fantasties. Ek dink byvoorbeeld hoe ek een dag gesukkel het om die donkie gestook te kry vir warm water, toe ek weer kyk sit Carla en Ruan langs my op die grond en ons deel God se grootheid met mekaar. Dit is tye soos daardie wat vir my die belangrikste was.
